InsuranceNews

Biometriese identiteit van diere ingespan om veediefstal te bekamp

Die biometriese identiteit van diere gaan deur Vrystaat Landbou, in samewerking met ID- Scan, ingespan word om veediefstal aan te spreek.

Vrystaat Landbou het op 11 Februarie 2025 ‘n samewerkingsooreenkoms met die voorsitter van ID-Scan direksie, Bian Jooste, in Pretoria geteken. Jooste verduidelik dat die ontstaan van ID-Scan ontwikkel het vanweë die feit dat “oorplaatjies verlore raak, verander of uitgesny word, maar ‘n neusafdruk van ‘n bees bly uniek tot die dier, nes ‘n
mens se vingerafdruk”

Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou, sê dat die organisasie opgewonde is om hande te vat met ID-Scan om die bewyslas van vee eienaarskap met ‘n unieke biometriese neusafdruk identifikasiesertifikaat te koppel met VL se eie AIMS-stelsel.

Vrystaat Landbou se aanlyn AIMS stelsel gaan oorplaatjienommers koppel aan die unieke biometriese identiteit wat ID-SCAN vanaf ‘n neusafdruk genereer en ‘n unieke nommer daaraan allokeer. “Dit sal baie help met vinnige visuele of elektroniese identifikasie van ‘n bees vir kudde-bestuur, veediefstal identifisering of naspeurbaarheid.” sê Wilken.

Elke keer wanneer ‘n bees se QR-kode op die plaatjie geskandeer word met ID-Scan se toep op jou slimfoon, word die datum, tyd en plek in die ID-Scan en AIMS databasis aangeteken. Dit maak groot geleenthede oop vir finansiering en versekering van vee, en pas natuurlik in by die nasionale RMIS naspeurbaarheid stelsel.

ID-Scan is reeds gekoppel aan SA Stamboek en dus kan die programme die data outomaties met mekaar deel sodat die ingetekende boere net eenmallig moet registreer.

Om op AIMS in te teken en om oorplaatjies te bestel gaan na https://aims.vslandbou.co.za/ Elektroniese (EID) of visuele (VID) oorplaatjies kan bestel word. Dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, verduidelik dat EID
oorplaatjies elektroniese oorplaatjies is wat met ‘n RFID skandeerder of sensor op ‘n weegskaal gelees kan word. Met VID oorplaatjies kan ‘n QR-kode met jou selfoon gelees word om die unieke nommer van ‘n bees op ‘n bestuurstelsel te kry.

Om op ID-Scan te registreer en die toep af te laai, besoek https://idscan.co.za/.
“Ons uiteindelike doel”, sê Jooste, is dat ons wil hê die neusafdruk moet vir die veebedryf doen wat die vingerafdruk vir mense gedoen het in terme van die bankbedryf (finansiering), die versekeringsbedryf, voorkoming van misdaad met die SAPD en handel (by veilings).

Pin It on Pinterest